Sy ‘Geniet Nie Haar Sukses’
Sterf Tragies Na Sy Metrorail – Saak Wen
Tuesday 14 Oktober 2014
Presies “n week nadat Caroline Hendricks gehoor het sy het haar saak teen Metrorail vir die Faure – ongeluk gewen, is sy tragies oorlede.
Regter Steven Majiedt het op 17 September in die appélhof in Bloemfontein bevind as die trein op 13 November 2006 teen 40 km/h gery het, sou dit betyds kon stop om die botsing met ‘n lorrie vol plaaswerkers te vermy.
Om teen 40km /h oor die Croydon – oorgang te ry pleks van 90 km/h, sou die rit met net agt sekondes verleng het.
Altesaam 19 mense is dood en 12 beseer nadat ‘n plaaslorrie op die oorgang gaan staan het en deur die trein getref is.
‘n Saak om skadevergoeding is deur Hendricks (48 ) en Primilda Jacobs teen Metrorail en die Suid- Afrikaanse Spoor – en- Pendelkorporasie aanhangig gemaak. Hulle het die saak vir hulle en al die ander slagoffers gewen.
n Week later , op 24 September , het Hendricks ‘n asma – aanval gehad en is in die Swartberge – hospitaal oorlede nadat haar longe platgeval het.
Volgens die hoof van Riverlands Primêr, Jonathan Saunders , word Hendricks oorleef deur haar man, Arend, vyf seuns, ‘n dogter en vier kleinkinders.
Hendricks en Arend sou vanjaar 13 jaar getroud gewees het. Hendricks is op 4 Oktober, op haar seun Dominique Simon se matriekafskeid begrawe. “Dominique is tans in matriek. Hy is die enigste kind in die familie wat al tot matriek gevorder het. “Hy is knap in wiskunde, maar benodig ‘n mentor weens huislike omstandighede,” het Saunders gesê.
Arend is tans werkloos. Hendricks se regsverteenwoordiger , Tzvi Brivik van Malcolm Lyons & Brivik Ingeslote , het gesê dis ‘n tragedie dat Hendricks nie kon leef om die sukses van haar saak te geniet nie.
Volgens Brivik kan hulle steeds verlies van inkomste tot en met haar dood, enige mediese koste wat aangegaan is en algemene skadevergoeding vir pyn en lyding van Metrorail eis.
Volgens Brivik sal die slagoffers hul eise in die hooggeregshof moet bewys: “ Dit sal waarskynlik eers oor ‘n jaar of 18 maande aangehoor word.”